Die enigste geluide wat ek hoor soos ek afstap met die lang blou gang is die klik-klak-klik-klak van vele rekenaar sleutelborde en soms… nee niks, dis net die rekenaar sleutelborde. Dit voel of my siel stukkie vir stukkie uit my lyf getrek word, die grond rondom my raak onvrugbaar en die lig is ewe skielik dowwer as toe ek vanoggend opgestaan het! In die kamer aan die einde van die gang sit hulle, hulle sit daar soos ’n paar zombies, daai soort met die skroef deur die nek wat nie lekker weet wat om hulle aangaan nie.
Vandag is een van daardie Hannah Montana dae, dis amper naweek en my ora is… was… super geel! Wanneer ek my stoel uittrek en na die stuk of nege mense rondom my kyk, hoor ek hoe my sug op dowe ore val wanneer ek besef dat die enigste woorde wat ek vandag met hierdie mense gaan praat, “good morning” en “goodbye” gaan wees. Niemand kyk regtig op wanneer ek ’n vriendelike ”good morning” uiter nie maar hier an daar is daar darm iemand wat die een kant van hulle oorfone rond skuif en iets mompel. Waar ek sit voor my rekenaar in die Sofware Development afdeling van een van die mees suksesvolle sagteware maatskappye in Suid Afrika, deel ek ’n kamer met van die slimste maar sekerlik die depressingste mense in Suid Afrika, JA hulle is heel konvensioneel depressing! Hulle is depressing, boring en maak die lewe soms ondraaglik maar…
Maar soos ek hier sit, raak die grond rondom my weer vrugbaar, die lig is weer helder, my ora is weer giggel-geel en die lewe is weer ‘n Hannah Montana song! Want ek besef nou ,die blote feit dat hierdie mense my vir ’n oomblik , slegs ’n oomblik so laat voel het, beteken dat ek NIE heel konvensioneel depressing is nie!